Efese* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Die fasade van die Celsus-biblioteek in Efese. | |
Ligging van Efese in Turkye | |
Koördinate: 37°56′28″N 27°20′31″O / 37.94111°N 27.34194°O | |
Lande | Turkye |
Tipe | Kultureel |
Kriteria | iii, iv, vi |
Verwysings | 1018 |
Streek† | Asië |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 2015 (39ste Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Efese (Antieke Grieks: Ἔφεσος; Turks: Efes) was ’n antieke Griekse hawestad aan die weskus van Anatolië, naby die huidige Selçuk in Turkye. In die Romeinse tyd is 'n nuwe hawe gevestig, aangesien die baai om die vorige reeds deur die Kaistrosrivier toegeslik was. Die nuwe hawe sou tot 'n belangrike handelsentrum ontwikkel wat baie jare lank die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk sou wees.[1][2] Dit het in die eerste eeu v.C. sowat 250 000 inwoners gehad, wat dit ook die tweede grootste stad ter wêreld gemaak het.[2]
Die stad was onder meer bekend vir sy Tempel van Artemis, wat omstreeks 550 v.C. voltooi is, en een van die wonders van die antieke wêreld was. Die tempel is in 401 n.C. verwoes.[3] Keiser Konstantyn die Grote het ’n groot deel van die stad laat herbou en nuwe openbare baddens opgerig. Die stad is weer in 614 gedeeltelik deur ’n aardbewing verwoes. Die baai waaraan dit eens geleë was het langsamerhand volkome toegeslik. Skeepstoegang is hierdeur belemmer en die stad het gekwyn.[4]
Die ruïnes lê vandag 3 km suidwes van die dorp Selçuk in Turkye en is ’n gewilde toeriste-attraksie. Die Kaistrosrivier staan tans as die Küçük Menderes, oftewel "Klein Meander" bekend. Efese was een van die sewe gemeentes wat in Openbaring genoem word (Openbaring 1:11). Paulus het ook 'n brief aan die gemeente geskryf. In 1863 het die Britse Museum met opgrawings begin, wat deur die Oostenrykse Argeologiese Instituut opgevolg is.[4] In 2015 is Efese deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.